Kom stap in Magoebaskloof

February 09, 2012 at 1:07 PM

magoebaskoof-1.jpg

 

As jy al ooit gewonder het of dit die moeite werd is om in Magoebaskloof te gaan stap, kan ek jou met sekerheid antwoord: Dit is!


Ek deel graag ‘n paar foto’s, hoogtepunte en wenke met julle nadat ek laasjaar Desember saam met nege vriende daar gaan stap het.

 

Die Magoebaskloofstaproete lê in Komatieland se Woodbush Forest Reserve tussen Tzaneen en Haenertsburg in die Limpopo Provinsie. Daar is ses oornaghutte en verskeie roetes om van te kies: so kort as 2 nagte (20 km) tot 5 nagte (62 km). Ons stap die Dokolewapoele 3-nagroete (±44 km).

 

DAG 1 oornagplek – Seepsteenhut


Ons parkeer ons voertuie by die Woodbush-hut en stap 1.5 km tot by die Seepsteenhut – ons eerste oornagplek. Hier kamp jy in ‘n betowerende denneplantasie wat vroegaand in ‘n feetjiewêreld verander wanneer honderde vuurvliegies om die huisie verskyn. Die hoogtepunt is die lekker braaiarea buite die Seepsteenhut. Ons kuier tot laatnag hier…


magoebaskloof-2.jpg


Dag 2 oornagplek – Watervalhut

 

Tydens Dag 2 stap ons ongeveer 14 km deur plantasies en inheemse woud tot by die Watervalhut. Die pad is redelik steil op plekke en dis die rofste dag van die staptoer.


Soos die naam sê, is die Watervalhut langs ‘n waterval geleë…maar dis nie die beste nie. Die hut se laatmiddaguitsig laat jou dink jy’t in Alaska wakker geword:


magoebaskloof-3.jpg


magoebaskloof-4.jpg

 

‘n Mens verwag die heeltyd ‘n bruinbeer en haar kleintjies moet uit die woud gestap kom of ‘n wolf moet huil in die verte. As jy bereid is om jou visstok saam te dra, kan jy ‘n forel of twee onder langs die rivier probeer uittrek.

 

magoebaskloof-5.jpg

 

Dag 3 oornagplek – Dokolewahut


Die derde dag se stap is die verste – 18 km in totaal – maar gelukkig is meeste daarvan op relatiewe gelyk grond deur inheemse woude. Die laaste kilometer tot by die Dokolewahut loop langs ‘n klipperige waterstoom en bied van die mooiste tonele in die hele Magoebaskloof. Die mooiste hiervan is die Dokolewahut self, met sy houthangbruggie bo-oor die stroom.


magoebaskloof-6.jpg


Langs die hut is ‘n lekker diep (en yskoue) swempoel waar jy die dag se sweet in kan afspoel. Die water mag miskien yskoud wees, maar moenie dink jy gaan warmer kry in die stort nie! Slegs die Broederstroomhut en De Hoek-hut het warm water.


magoebaskloof-7.jpg

 

Al drie hutte – Seepsteen, Waterval en Dokolewa – het agt dubbeldekkerbeddens met matrasse. Daar is dus plek vir 16 stappers elke hut.

 

magoebaskloof-8.jpg

 

Ander geriewe by hierdie drie hutte sluit in: Spoeltoilette, opwasbakke, tafels met bankies, en buite-braaiareas. Daar is geen elektrisiteit of kombuisgeriewe nie.

 

Hoe lyk die woud?

 

Magoebaskloof laat my baie aan die Tsitsikammawoud dink – klein waterstroompies wat deur toweragtige inheemse woude vloei, amper soos ‘n toneel uit Lord of the Rings. Die styg en daal gereeld, en kronkel deur die berge. Wanneer dit nat is, kan die paadjies baie glad en modderig wees.

 


Wanneer jy nie in inheemse woude stap nie loop die paadjie deur denneplantasies. Persoonlik is dit vir my net so mooi en doen dit glad nie afbreek aan die natuurskoon van Magoebaskloof nie.


magoebaskloof-9.jpg


magoebaskloof-10.jpg


Op die laaste dag, vanaf die Dokolewahut tot by die Woodbushhut waar die karre staan, kruis jy die een bruggie na die ander.


magoebaskloof-11.jpg


As hierdie paar foto’s jou nie lus gemaak het om in Magoebaskloof te gaan stap nie weet ek nie wat sal nie! Dis regtig een van die lekkerste roetes wat ek in ‘n lang tyd gaan stap het en die groot voordeel is dat jy soveel roetes het om van te kies.

 

Magoebaskloof 101:


Wanneer moet ek gaan? 

  • Enige tyd van die jaar. Vat ‘n reënjas saam, want kanse is goed dat jy gaan nat word.

 

Wat moet ek saamvat?

  • Jy moet alles self op jou rug dra. Probeer om nie jou rugsak swaarder as 15 km te pak nie. Hout word by die hutte voorsien. Drinkwater kan uit die stroompies geskep word.

 

Hoeveel kos dit?

  • R105 per persoon per nag

 

Waar bespreek ek?

 

Ek beoog om nog baie stapwenke en stories met julle op Out and About te deel in 2012.  Geniet Magoebaskloof en onthou: moet nooit alleen stap nie!

 

Vrede,


Villiers Steyn



Tags: Magoebaskloof, staptoer
Category: Out and About

blog comments powered by Disqus

 

Related Articles

image thumbnail